2010 SA KAASFEES ‘N KLINKENDE SUKSES

Derduisende kaasliefhebbers van heinde en verre het die afgelope lang naweek die goeie lewe tydens die 2010 SA Kaasfees op Bien Donne met óórgawe gevier.

Flukse kaartjie-verkope die week voor die fees was volgens die feesdirekteur, mnr Johan Ehlers, een van die eerste aanduidings dat die fees, ten spyte van die moeilike ekonomiese tye, weer 'n reuse-sukses sou wees. "Rekord-kaartjie verkope in die aanloop tot die fees en die bywoning het alle verwagtinge oortref," sê Ehlers.

Die fees het op Saterdag 24 April met 'n knal afgeskop en vir 'n volle vier dae manjifiek sy momentum behou. Hoogtepunte vanjaar sluit die kwinkslae en kookvernuf in van glanspersoonlikhede Nataniël, Soli Philander, Diaan Lawrence en Jody Abrahams wat stampvol sale in die Checkers Teater en Kookpot gelok het, die 200 000ste besoeker, 'n wye verskeidenheid gehalte-kaas, kreatiewe verwante produkte sowel as 'n pretbelaaide program van gebeure en vermaak vir oud en jonk.

Volgens Ehlers berus die sukses van die SA Kaasfees - met twee toekennings* as die land se beste op sy kerfstok - ook op die beperking van besoekersgetalle per dag,

Marc's Mediterranean Cuisine het die toekenning vir die beste stalletjie in die Fynproewerslaan vir die sesde agtereenvolgende jaar verower. Marc reken die fees is puik georganiseer en was positief oor die ondersteuning van die publiek ten spyte van veel strawwer kompetisie in die Fynproewerslaan.

Mannamakers en Fleckvieh het vir die tweede jaar in 'n ry stalletjie-toekennings in die kategorieë kaas-verwante produkte en Melkfabriek ontvang. Van die ander stalletjie-wenners was Simonsberg vir die beste nasionale kaasstalletjie en Foxenburg in die kategorie Boetiek Kaasuitstallers

Feesgangers, uitstallers, deelnemers en besoekers is dit eens dat die SA Kaasfees - nou in sy negende jaar - steeds van krag tot krag gaan. Me Jacoba Budden van die webtuiste justfoodnow meen die fees kan loshande by die wêreld se beste kers vashou.

Die organiseerders nooi kaasliefhebbers om die 10de SA Kaasfees aanstaande jaar van 29 April tot 2 Mei 2011 te kom geniet.

Nota: die Exhibition and Event Association of Southern Afica (EXSA) het die SA Kaasfees in 2009 en 2007 as die beste uitstalling van die jaar in die handels- en verbruikerskategorie vir geleenthede groter as 12 000 vk meter aangewys.

Uitgereik deur Marlene Truter Communications
Kontak: Marlene Truter
tel 083 294 6060
marlene@marlenetruter.co.za

Namens Agri-Expo
Kontak: Mariana Rabie
tel 021 975 4440 / 082 871 1114
mariana@agriexpo.co.za