Besoekers Geniet Rekordaantal Kaasmakerye by SA Kaasfees

2009 SA Kaasfees
Die baie suksesvolle SA Kaasfees van die afgelope naweek (24-27 April) het homself bewys as een van die land se toonaangewendste geleenthede en word geag vir sy uitstaande kulinêre inhoud en gesellige samesyn. "Die besonders hoë kwaliteit van Suid-Afrikaanse kase, sowel as die kreatiewe verskeidenheid verwante produkte, veroorsaak dat hierdie fees 'n hoogtepunt is op enige kosliefhebber se kalender," sê Johan Ehlers, HUB van Agri-Expo, die organiseerders van die SA Kaasfees. "Die fees is die ideale plek om die ryk verskeidenheid van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf ten toon te stel."

Volgens Ehlers het die beperking op toegangsgetalle bygedra tot die positiewe ervaring van die publiek. Ten spyte van Saterdag se reënweer het die fees nagenoeg 29 000 besoekers gelok en op twee van die vier dae was die kaartjies uitverkoop (8 000 besoekers word per dag toegelaat). Vir die SA Kaasfees was hierdie 'n jaar van rekords: dit het die meeste ooit uitstallers gelok - insluitend die meeste ooit nuwe boetiek-styl kaasmakerye - sowel as 'n rekordgetal interessante verwante produkte wat kaas komplimenteer. Ook die programme in die Kookpot het groter skares as gewoonlik getrek vir die kookkaskenades van Nataniël en hoogs vermaaklike en leersame demonstrasies deur van die beste sjefs in die land, o.a. die 2008 SA sjef van die jaar, George Jardine, en die Giggling Gourmet Jenny Morris. Die jongspan is ook begroet met 'n groter verskeidenheid vermaak insluitend gunsteling strokiesprentkarakters, musiek en speletjies om hul besig te hou.

"Ons was oorweldig deur die wonderlike reaksie wat ons by vanjaar se fees ontvang het," sê Paúla Hinks, bemarkingsbestuurder van die Rhodes Food Group wat die toekenning gewen het vir die beste stalletjie in die kategorie vir boetiek-styl kaasmakerye onder die vaandel van hul Portobello handelsmerk. "Dit was goed om te sien dat die besoekers ware belangstelling toon en nie net proe soveel hul kan nie. Hulle het uitgevra oor ons reeks, ons produksieprosesse en die verspreiding van ons produkte. Die oggend na die fees het ons reeds bestellings vanaf feesgangers begin kry." Ander stalletjiewenners was Boschendal in die wynkategorie, Marc’s Mediterranean Cuisine in die Fynproewerslaan, Mannamakers vir kaas-verwante produkte, Checkers vir die beste nasionale kaasstalletjie en Fleckvieh vir die beste stalletjie in die Melkfabriek.

Die gewildheid van die SA Kaasfees sal verseker dat kaasliefhebbers weer volgende jaar 'n geleentheid gegun sal word om die beste van die SA kaasbedryf vanaf 24-27 April te geniet.