Proe, eet, drink en geniet na hartelus by vanjaar se SA Kaasfees van Saterdag 24 tot Dinsdag 27 April by Bien Donné op die R45 tussen die Paarl en Franschhoek. Hierdie hoogtepunt op die koskalender dek die tafel vir 'n intieme dog feestelike samekoms van kaasmakers, koskundiges en diegene wat bloot dol is oor die goeie lewe. Bring die hele familie vir 'n pretbelaaide dag in die platteland omring met die heerlikste bederfkos.
Die Checkers Kaasemporium huisves die land se grootste versameling kase onder een 2 400 m2 lugverkoelde dak. Vreemd en sterk of bekend en matig – jou keuse van kaas is daar. Vul ook jou sak of mandjie met soete verleidsters soos handgemaakte sjokolade, Turkse lekkers, nougat, en soet- of vonkelwyne, en jy's gereed vir 'n smaaksensasie.
In die Checkers Teater sal Nataniël jou vermaak met sy vlymskerp humor, en die Giggling Gourmet Jenny Morris en Huisgenoot se kosredakteur, Carmen Niehaus, sal jou bekoor met hul verbeeldingryke kaasresepte. Gratis kaartjies na Nataniël se sessies is daagliks buite die Kaasemporium beskikbaar.
Sien verskeie gunsteling vermaaklikheids-, kos- en ander ikone in aksie in die nou reeds bekende Kookpot. Geniet Soli Philander se kaaskenades, of laat Sarie en Sarie Kos se kosfundies Herman Lensing en Barbara Joubert (onlangs vereer as die Galliova Kosskrywer van die Jaar) jou verras met kaas vir jou soettand. Die Pinotage ikoon, Beyers Truter, en Johan Badenhorst van Voetspore faam, span saam vir 'n avontuurlike demonstrasie van kampkos en Pinotage. 'n Kombinasie van kwinkslae en canapés bring RSG aanbieder Johan Rademan, TV aanbieder en komediant Nico Nel en sjef Alet Erasmus saam om die stoof. Lusmakergeregte met Peroni as pasmaat is sjef Craig Hounsman se spesialiteit.
Of jy nou 'n vurige fynproewer of 'n lawwe lekkerbek is, die energie van die Kookpot, legendaries vir kaasinnovasie, is aansteeklik.
Kinders 12-jaar en jonger kom gratis binne en dan begin die pret! Ervare vermaaklikheidskunstenaars sal die jongspan help om van hul energie ontslae te raak in die Wilde Vrugtesap Kinderhoekie beman deur die professionele partytjie-organiseerders, Crazy Chameleon. Lewensgroot strokiesprentkarakters van die Boomerang Kanaal sal drukkies uitdeel en toor- en ballonkunstenaars sal kinders vir ure vermaak. Bring ook jou kinders om melk se reis van die koei, bok of skaap na die tafel mee te maak terwyl hulle die nabyheid van hierdie rustige grootoog, vierbeenvriende in die Renault & Kia Melkfabriek ervaar.
Kaas op sy eie is 'n lekkerte, maar saam met die regte pasmaats het jy 'n fees op hande. Die nuwe SA Olyfervaring in Die Mall stel olyfentoesiaste in staat om hierdie oeroue vrug op verrassende maniere te ervaar – proe die suiwerste olyfolies en glansende swart en groen tafelolywe, tapenades en selfs olyfkonfyt. Sowat tien olyfprodusente van so ver as Beaufort-Wes, Montagu en Porterville deel met jou hul produkte wat deur een produsent beskryf is as die besondere gawes van goeie grond en vasgevangde sonskyn.
Kaas en wyn hoort natuurlik sy aan sy – proe die vele kultivars, maak jou keuse en vul dan jou kelder tuis met jou gunstelinge. Bou jou voorraad lekkernye op, insluitend neute, tuisgemaakte konfyte, brood en pesto's om jou vir die res van jou herfspieknieks en die koue winteraande wat volg, salig gelukkig te hou.
Spesialis kaasmakers wat uitsonderlike kase skep met eeue ou metodes en baie geduld deel hierdie spasie met deli-produkte wat proeplesier na nuwe hoogtes neem. Ontspan in die rustige plaasmark atmosfeer en maak jou keuse: wat neem jy huistoe. Of beter nog, pak jou kopies daar en dan uit en deel jou kosbare fondse met mekaar. Besoek ook die Slaklaan met al sy tuisgemaakte dekadente produkte wat die mond sal laat water.
Luister na jou aptyt en laat die verskeidenheid watertand geure en smake vanuit die Fynproewerslaan jou oorreed om te kom sit en 'n ietsie te eet op ritme van BRAWOU! se musiek. Moenie vergeet om by die kruiekwekery aan te doen en jou kaas-en-kruie kookavonture 'n hupstoot te gee nie.
Die organiseerders van die SA Kaasfees is toegewyd tot die vergroening van dié fees. Die gekontrakteerde oprigters van die stalletjiestrukture het 'n sterk verbintenis tot die groen beweging binne hul eie bedryf en herwin hul produkte jaarliks. 'n Groep van Franschhoek se voorheen benadeelde gemeenskap is ook genooi om alle rommel vir herwinning te sorteer en so 'n handige inkomste te verdien.
Wen kaartjies en produkpakkies deur aan die weeklikse aanlynkompetisies by www.cheesefestival.co.za deel te neem. En as jy 'n vlytige Facebook aanhanger is, sluit aan by die Kaasfees groep en deel jou Kaasfees fotoherinneringe of word bloot 'n hoogs waardeerde volgeling.
'n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar by Computicket en Checkers winkels (geen kaartjies by die hekke nie) teen R110 vir Saterdag en Sondag en R90 vir Maandag en Dinsdag. Senior burgers betaal R70 en kinders 12-jaar en jonger kom gratis. Die fees is daagliks oop van 10:00 tot 18:00 en sluit op die laaste dag om 17:00. Kontak Agri-Expo by tel 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za of besoek www.cheesefestival.co.za vir meer inligting.