Pure Proe-Plesier en Kuierpret by 2010 SA Kaasfees

SA Kaasfees-entoesiaste word genooi om te kom proe, eet, kuier en geniet terwyl hulle ‘n wêreld se smake in een plek ontdek.  Hierdie fynproewersfees vind plaas van Saterdag 24 tot Dinsdag 27 April 2010 by Bien Donné op die R45 tussen die Paarl en Franschhoek.


Geniet kaas en die mense daaragter – van kaasmakers wat op klein skaal spesialiteitskase maak tot die groter suiwelreuse. Ontdek ook ‘n ryke verskeidenheid aanvullende lekkernye soos plaaslik verboude olywe, tuisgemaakte konfyt, handgemaakte sjokolade en bekroonde wyne.  Of jy bloot daarvan hou om kos te maak en of jy dink jy is kaas in die kombuis – kom wees deel van die plesierigheid in die interaktiewe Kookpot waar die atmosfeer energiek is en die aksie nooit ophou nie. 

Die SA Kaasfees bied talryke pretbelaaide aktiwiteite vir die hele familie.  Terwyl die volwassenes terugsit en die rustige atmosfeer  indrink of die magdom geleenthede om te proe, eet en kuier in die Kaasemporium, Kaasmark, Die Mall, Fynproewerslaan of Suiwelplein benut, kan die jongspan in die Kinderhoekie of die Cheese Chiller speel of die fassinerende aktiwiteite in die  Melkfabriek geniet. 


Koop dus daardie kaartjies voor jy kan sê “kaas” – slegs ‘n beperkte aantal is beskikbaar by Computicket en Checkers winkels (geen kaartjies by die hekke nie). Kaartjies beloop R110 vir Saterdag en Sondag en R90 vir Maandag en Dinsdag. Senior burgers betaal R70 en kinders 12-jaar en jonger kom gratis. Die fees is daagliks oop van 10:00 tot 18:00 en sluit op die laaste dag om 17:00.