SUIWELPRODUKTE WEERSPIEëLING VAN ONTWIKKELDE VERBRUIKERSMAAK
Suid-Afrikaanse suiwelprodukte ding vandag (15 Maart) teen mekaar mee om as SA kampioene aangewys te word. ‘n Paneel van 40 beoordelaars vanuit die bedryf wat ook ‘n internasionale kaasontwikkelaar, mnr Ulf Mortensen van Denemarke insluit, beoordeel agt kategorieë, naamlik botter, kaas, maaskaas, joghurt, gegeurde melk, suiweldoopsouse, roomys en suiwel nagereg. Produkte wat bo ‘n sekere punt presteer, ontvang ook ‘n Qualité Toekenning – die enigste Suid-Afrikaanse simbool van uitsonderlike gehalte in die suiwelbedryf. Die top Qualité produk word dan aangewys as Suiwelproduk van die Jaar. Hierdie beoordeling, met 786 inskrywings, wat reeds vir die 178ste maal deur Agri-Expo aangebied word, vind volgens internasionale standaarde plaas en kan vergelyk word met die beste Suiwelkampioenskappe ter wêreld. Die resultate word daarna geouditeer.
"Inskrywings in die Kampioenskappe is 'n direkte weerspieëling van die mark- en verbruikers-tendense" sê mnr Kobus Mulder, hoofbeoordelaar. "'n Verhoging van 16% in die aantal inskrywings vir verouderde kaas dui daarop dat die plaaslike kaasverbruiker se smaak nou meer gesofistikeerd is en dus kase met 'n komplekse smaak verkies." Mulder sê ook "dat die stygende aantal inskrywings (10% jaar-op-jaar) in die joghurt met vrugte kategorie, 'n aanduiding is dat 'n beduidende persentasie verbruikers nou verkies dat hul daaglikse joghurthappie smaakvol en energiegewend moet wees".
Een van die nuwe joghurt-beoordelaars by vanjaar se SA Kampioenskappe, is Adri Swartland, wat in 2006 as leerling kaasmaker by Parmalat Simonsberg, 'n beurs ontvang het om in Frankryk te gaan studeer. Swartland is vandag die Kwaliteitsbestuurder by Fair Cape, bekende joghurtvervaardiger in die Wes-Kaap. Sedert 2005 is Agri-Expo die programleier van 'n uiters suksesvolle opleidingsinisiatief van die Wes-Kaapse Departement Landbou, om in samewerking met die streeksregering van Boergondië, vier leerlingkaasmakers van die Wes-Kaap jaarliks na Frankryk te stuur.
Vanjaar se wenners word op Woensdagaand 25 April in Stellenbosch aangekondig tydens die DuPont Qualité Dinee wat deur rolspelers vanuit die hele suiwelbedryf in Suid-Afrika bygewoon word.
Kaasliefhebbers kan self eerstehands by die 11de SA Kaasfees vanaf 27 - 30 April 2012 op Sandringham, Stellenbosch, halfpad tussen die Paarl en Kaapstad uitvind of hulle die beoordelaars se besluite ondersteun
.
Vir meer inligting aangaande die SA Suiwelkampioenskappe en die SA Kaasfees, kontak Mariana Rabie by [email protected] of 021 975 4440 / 082 871 1114 of besoek www.cheesesa.co.za